Geestelike Groei en Herlewing

Hoe gaan dit met jou? En hoe gaan dit met jou by jou werk of met die pligte waarmee jy daagliks besig is? Ek kan weliswaar nie jou antwoord hoor nie, maar ek hoop jy gebruik sommer nou hierdie geleentheid om jou gedagtes en gevoelens oor jou werk of dagtaak met die Here te deel.

As jy ’n paar sake of mense het waaroor jy wil kla, dan mag jy! Moet net nie by die klagtes vasval nie. Dink ook aan sake of mense waaroor jy dankbaar is en loof die Here sommer by voorbaat vir Sy antwoorde op jou vrae en probleme.

Die groot seën om van jou werk te hou

Mag ek jou vra? Hou jy van jou werk? Jy mag ook hierdie vraag eerlik antwoord …

Dis deel van gelowiges se uitdaging om ook in die manier hoe hulle hul daaglikse brood verdien Jesus se volgelinge te wees. Dis vir ons almal ’n uitdaging, maar dis veral moeilik as jy dit in ’n omgewing moet doen waarbinne jy nie waarlik tuisvoel of gelukkig is nie.

Dit kan gebeur dat jy ’n werk het wat nie heeltemal by jou roeping en/of jou temperament pas nie. Die ekonomiese klimaat en al die onsekerheid in die wêreld het ook tot gevolg dat min mense die vryheid of die geleentheid het om na hartelus van werk te verander.

Daarom was dit vir my so ’n voorreg om weer deel te gewees het van Voelgoed Media se EkwilEkkanEksal-konferensie by Lewende Woord, Brummeria. Die tema was naamlik “Niks verander nie! Waarom?”.

Daar was vier sessies om die duisende (ja!) deelnemers te motiveer om ’n betekenisvolle lewe te skep waaroor hulle mal kan wees. Die ander drie sprekers was die vuur- en glasloper Cobus Visser, besigheidsafrigter dr. Marcel Hattingh en die akteur en skrywer Reynardt Hugo.

Ek het eerste gepraat en my tema was “Jy is spesiaal net soos jy is!”. Is dit nie interessant dat as ’n mens jou lewe wil verander, jy by selfaanvaarding moet begin nie? Dit sluit in om jouself en jou temperament te ken en te leer liefkry.

Maar jy moet ook tot in die verste hoekies van jou hart glo dat God oor jou gedroom het en jou in hierdie lewe – en in jou werk – met ’n spesifieke roeping geplaas het. Dis deel van my roeping om deur die wêreld te reis en mense hiertoe te inspireer.

En ek hou verskriklik baie van hierdie werk van my. Ek is so geseënd en bevoorreg! Dis egter nie ’n eksklusiewe seën nie – dis ook vir jou beskikbaar. Bid en vra. Jy sál ontvang.

Is jou geloof nog die fondasie van jou lewe én jou werk?

In Kuruman het ek by die jaarlikse streeksbyeenkoms van die Gereformeerde Kerk se susters opgetree. My tema was hoe ons as gelowiges soos briewe van Christus in die wêreld is. Elke gelowige moet weet dat jy as brief nie in ’n laai kan wegkruip nie.

Die samekoms het by een van die mooiste “venues” waar ek nog ooit was plaasgevind, naamlik iNiSkuur (Spitzberg). Om tussen ander gelowiges te wees, iewers waar die plek jou hart met skoonheid vervul, is baie onderskragend.

Ons het weer vir mekaar gesê: Mense moet Christus in jou kan raaklees, orals waar jy is. Is dit dalk vir jou moeilik om Sy brief by jou werk te wees? Dan is jy nie die enigste persoon vir wie dit ’n uitdaging is nie, hoor!

Kan jy dalk ’n paar mense uit jou geloofsfamilie nooi om oor die Here-by-my-werk te praat met ’n stukkie skoonheid soos ’n groot boom, musiek of ’n veelkleurige tafeldoek daarbý? Ek wil jou aanmoedig om dit te doen, want ek het hierdie Maartmaand weer aan my eie lyf gevoel watter verskil dit in jou werk maak as geloof jou fondasie is.

Alliance, Catholic Relief Services, Mothers2Mothers, Postbank en Sechaba Group wat in Lesotho gebaseer is, het my genooi om agt sessies met hulle mense te doen. Aan die begin van elke sessie het ons ’n gebed gesing. Ek het nie die woorde geken of verstaan nie, maar ek het die Heilige Gees duidelik beleef en gehoor.

Hierdie mense leef in vrees, want daar is weens die huidige omstandighede in ons wêreld ’n groot risiko dat hulle hul werk en mediese voorsiening kan verloor. Tog is hulle geloof hulle fondasie. Hulle het my bemoedig en gemotiveer met hulle dapperheid, terwyl ek met hulle oor temas soos uitbranding en veerkragtigheid gepraat het.

Om te blom in jou werk is geestelike groei en herlewing nodig

In Ladybrand, waar ek in ’n gastehuis met die lekker naam, Cranberry Cottage, so heerlik gebly het terwyl ek in Lesotho gewerk het, het ek ook ’n aanbieding gedoen. Die tema was “Hoe moet ’n Christen in sy of haar werksomgewing optree?”.

Sien jy die Here se hand in my reise, mense en temas en hoe die legkaartstukkies inmekaarpas? Hy sal dit vir jou ook doen. Klop en Hy sal vir jou oopmaak – net soos Hy vir AGS Neo Doxa Witbank ’n deur wonderbaarlik oopgemaak het.

Hierdie gemeente het ’n splinternuwe gebou en hulle het die geleenthede waar ek opgetree het in die geloof gereël. Hulle het nog gewag vir munisipale goedkeuring om die gebou amptelik te gebruik en dit het letterlik 48 uur voor die tyd gekom. Prys die Here!

Maar jy moet ook weet dat ’n gelowige se werk nie altyd ’n plesierige blomtuin is nie. Ook in my besigheid het ek dikwels uitdagings. Daar is altyd veranderings en nuwe uitdagings wat bestuur moet word.

Sommige is plesierige aanpassings soos nuwe meubels vir ons raadsaal en ’n splinternuwe sillabus vir die Lynette Beer Studievaardighede. Maar daar is ook teleurstellende, moeilike en frustrerende aanpassings wat ’n mens moet maak. Jy moet maar altyd snoei, kunsmis gee en die onkruid uitskoffel.

Ek moet dikwels die Here se hulp inroep en aanhou fokus op my geestelike groei en nie net die groei in my besigheid nie. In April is ons tema daarom “Geestelike groei en herlewing”. Dis mos Paastyd en ek sien uit om saam met jou nader aan ons Here te groei.

Elke maand kry jy op die laaste Woensdag toegang tot alles wat nuut vir die nuwe maand uitkom. Maak nou asseblief ’n nota dat jy spesifiek na my potgooi in April luister. Die tema is “Groei met nuwe lewe soos ’n lelie in die modder”.

Deel dit met jou vriende en moedig hulle aan om ook lede te word. Ons groei so wonderlik! Dankie, Here en dankie vir jou.

Groeiende groete
Lynette

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs