Hallo

Kyk asseblief gou om jou heen … Wat kan jy sien wat mooi is? Wat kan jy dalk hoor wat mooi is? Of ruik jy dalk iets wat mooi of lekker is? Die estetiese is vir my belangrik omdat dit my help om te onthou hoe mooi die lewe wat God vir my gegee het, is.

As ek vroegoggend op my bank tydens my stiltetyd sit, hoor ek hemelse klanke van geestelike musiek. Ek ruik my gunstelingkoffie en voel die warmte van die stoom op my wang soos ’n gerusstellende streling.

My oog vang soms die skitterende pouveerpatroon op my muurpapier. Of op ’n stoel sien ek my skootrekenaar se leersak en ek hou so van die ding se kleur, die elegante ontwerp en die luukse gevoel onder my hande as ek dit optel.

Dan tref dit my: Dis die Here se voorsienigheid dat ek mag woon waar ek woon en dat ek mag besit wat ek het. Dan voel ek so bevoorreg en dankbaar. En ook op ’n beskeie manier trots op die vrug van my harde werk.

As ek kamer toe loop en die spierwit beddegoed is keurig oor die bed getrek, dan maak die hele prentjie my bly. As ek my beker op my bedkassie neersit, is die patroon en die ontwerp daarvan vir my so stylvol.

Dan tref dit my: Dis so ’n heerlike plesier om die kussingslope en koffiebekers wat vir my mooi is, te koop en te gebruik. Die harmonie bring ’n kalmte en ordelikheid in my besige gemoed en my koffie proe sommer net lekkerder. Dis genade wat ek met my sintuie waarneem.

Die estetiese kom ook op ander maniere na ons toe

Die skoonheid van die lewe bring nie net plesier nie, maar verbeter ook die kwaliteit van mense se bestaan. Die mooi dinge wat mense vir mekaar doen of wys, maak dit vir ons moontlik om aan te hou om aan te hou, al is omstandighede hóé uitdagend.

Soms verras iemand jou met ’n vriendelike gebaar of ’n sagte antwoord. Ander kere boul iemand se onverwagse bereidwilligheid om te help jou heeltemal uit. Jy beleef iets van die mooi wat ons Skepper in mense ingeskape het. Dit maak jou bly-dankbaar en stil-verwonderd.

In ’n werksomgewing waar ons konneksies met mense moet bou en in stand hou, is die mooi van die lewe in alle vorms daarom vir seker onmisbaar! As ons die mooi in mekaar en in ons omgewing op groot en op klein skaal raaksien, word ons gemotiveer om mekaar te ondersteun en ons werk nog beter te doen.

Jy mag dalk dink dis net mooipraatjies en ’n onmoontlike droom in ’n lelike, harde, komplekse wêreld. En ja, dit is so, ek kom op soveel mooi plekke en ontmoet soveel mooi mense dat ek bederf word met die skoonheid van die lewe

Maar ek moet – net soos jy – elke dag kies om dit raak te sien. Daar is altyd probleme, nare nuus, klakouse, bekommernisse, tegnologiese “duwweltjies”, teleurstellings, siektes, negatiewe mense en ander struikelblokke wat al my aandag probeer insluk.

Net as jy bewus daarop fokus, kan wat mooi is jou gedagtes en jou werklikheid transformeer. Jy en ek moet die Gees vra om alles wat rein en opbouend is in ons harte te laat insypel soos waterdruppels wat ’n verlepte potplant se grond deurweek en groeikrag bring.

Hoekom moet ons fokus op wat mooi is?

  • Dit vergroot jou selfvertroue. Jy word bewus van die waarde wat daar in jou lewe is en jy word gemotiveer om verdere doelwitte te bereik.
  • Dit moedig jou aan om jouself en jou omgewing te versorg omdat jy die harmonie en vreugde van wat mooi is, wil uitbou.
  • Dit bevorder geestelike gesondheid omdat jy meer dankbaar en bewus van seën word en jou sinisme verminder.
  • Dit verbeter verhoudings. Mense wat mekaar se mooi menswees waardeer en ondersteun, bou gesonde gemeenskappe waarin eerlikheid, samewerking en integriteit geëer word.
  • Dit bring jou nader aan God. In simmetrie, proporsie en dit wat jou sintuie kan geniet, beleef jy iets van die wonderwerk van die Skepper se handewerk.
  • Dit bevorder ’n gemeenskaplike strewe om die natuur en ons kulturele erfenis te bewaar sodat ons nageslag ook geïnspireerd kan leef.

Al die mooi wat ek in September beleef het

My werksmaande is altyd besig en soms oormatig besig. Dieselfde was waar van September, maar van hierdie maand kan ek veral sê dat dit MOOI was. Enersyds omdat die Here my verras het met ekstra estetiese gewaarwordinge. Andersyds omdat my sintuie opnuut daarop gefokus was.

Kom ek vertel jou van net ’n paar van hierdie geleenthede. Miskien kan jy die instansies en plekke op die internet gaan soek en saam met my hulle mooi-wees waardeer.

Om te keer dat hierdie brief te lank word, kan ek nie al 15 plekke en okkasies bespreek nie, maar hulle was almal verrykende belewenisse. Die twee troues waarby ek betrokke was het my besonders herinner aan die liefde as een van die heel mooiste gawes wat ons as mense ontvang.

EQ4Kids, Moot en Montana-area

Hierdie reeds suksesvolle franchise doen al lank sulke mooi werk en maak groot impak op kinders en ouers in hierdie lowerryke deel van Pretoria. Ons het Erandi Cockroft en haar mense met ’n amptelike bekendstellingsgeleentheid tog te lekker gevier.

Ouers het hulle harte by my oopgemaak oor temperamente en die dinamika in hulle gesinne. Die lewe word in ons huise waarlik mooier as jy jou emosies kan bestuur deur jou emosionele intelligensie meer te maak, en as mense mekaar se temperamente in ag neem.

As jy jou kind of kleinkind vir klassies in die Moot en Montana-area wil inskryf, kliek hier: 

Rijké, Jongensfontein

Het jy al gesien hoe mooi is my verskillende brille? Hulle word deur Benrè Strydom van Specsavers geborg. Hy reël jaarliks – saam met sy skoonma en vrou van Polomino Eiendomme – vir die gemeenskap van Stilbaai ’n mooi geleentheid saam met my.

Is dit nie een van die mooiste dinge wat mense vir mekaar kan doen nie? Ons het motivering so nodig en ek het daarom gepraat oor “’n Lewe van sukses met ’n gees van uitnemendheid”.

Beuld The Venue, Robertson

Sanette Prins van Robertson Voorbereidingskool het nie net die allermooiste, pryswennende plek uitgekies vir my optrede nie – sy het ook die gaste georganiseer om kleurvol aan te trek. Dit was wrintiewaar ’n fees in volkleur wat my as spreker soveel vreugde gegee het.

Alberton LewenSentrum Gemeente

Nou kyk, Alberton het weliswaar nie ’n see of ’n berg nie, maar daar was ’n see van stylvolle, beeldskone vroue voor my en hulle geloof kan berge skuif. Vroue wat bymekaarkom en die lewe vir mekaar mooier maak, beteken so baie vir ’n gemeenskap!

Pinnacle Point, Mosselbaai

Hier het ek saam met VAPS Consultancy ’n korporatiewe werkswinkel gedoen. So met die mooie, regte-egte see rondom jou kom ’n mens se kop én jou hart weer oop. Jy kry saam met die seebriesie hernieude energie terwyl jy kennis met mekaar uitruil wat jou werk verfris.

Lifework Leadership Pretoria

Ek vra die Here al ’n hele lang ruk ’n paar vrae en hier het Hy my geantwoord. Op die mees  asemrowende manier. Ek moes praat oor dapperheid en om moed te hou en my eie durfkrag was nie volstoom nie …

Maar by hierdie geleentheid het ’n belangrike deur vir my oopgegaan en ek het weer besef: Die Here is altyd, altyd aan die werk in ons lewe. Ons sien Hom net nie altyd raak nie.

Ons dink Hy weet nie van ons pyn en ons frustrasie nie, maar Hy is op die agtergrond besig om die meetsnoere vir ons in lieflike plekke te laat val. Daarom kan ons altyd volstoom moedig wees.

Kremetart Bistro, Hartbeespoortdam

My kollega, die fraaie en vrolike Savahna, het ’n geleentheid vir vroue georganiseer sodat ons mekaar weer kon verseker: Jy is waardig! Soms moet ’n mens jou verkyker uithaal en wyd kyk om die genade en seën in jou lewe weer in visier te kry. Ander kere kan jy net hier voor jou neus, die waardigheid van jouself en jou medemens raaksien. So lekker!

Beeldskone Bankgesprekke

Kyk uit vir my volgende Oppi-Bankgesprek met Hannelie Bronner van Edublox en ’n jong student wat hulle programme sedert haar laerskooljare deurgewerk het. Sy het disleksie en is nou ’n onderwysstudent.

Op ’n vraag in ’n toets of disleksie oorkom kan word, het sy natuurlik “ja”, geantwoord. En kan jy glo, dis verkeerd gemerk! Sy het dit gaan betwis en gesê: “Hier staan ek dan! Ek het disleksie en nou studeer ek!”

Is dit nie mooier as mooi om jou hart te versterk in die wete dat ook jou struikelblokke oorkom kan word nie?

Mag die Here jou seën met mense en dinge wat vir jóú mooi is.

Mooiste groete

Lynette

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Accept and learn
Relationships

Accept and learn

It’s easy to acknowledge that all people are fundamentally different from one another in theory… It’s a different ball game in practice when another individual

Read More »