Motivering vir die Nuwe Jaar

Kan jy glo dis die begin van nog ’n nuwe jaar en dis al my tweede geselsie met jou sedert my nuwe platform in November geloods is? Geseënde 2025 vir jou toegewens en dankie dat ons die jaar saam aanpak.

Hoe was jou Desembermaand? As jy verlof geneem het en bietjie met vakansie weg was, hoop ek jy het verfris teruggekom. As jy by die huis gerus het, hoop ek jy en jou huis het nuwe energie. En as jy moes werk, hoop ek jy het planne vir verlof later in die jaar.

My eksotiese avonture op ’n eiland ver van hier

Ek was so bevoorreg om een van my vier lekkerste vakansies ooit op die vierde grootste eiland in die wêreld te gehad het! Madagaskar … Waaraan laat hierdie naam jou dink?

As jy dink aan ’n uitgestrekte strand met palmbome en ’n louwarm, diepblou see, dan is jy in die kol met die aard van my vakansie. As jy dink aan die animasieprente met die prettige, chaotiese, luidrugtige  karakters is jy egter ook reg!

Op ’n kaart lê Madagskar net regs, oftewel oos van Afrika, maar die mense beskou hulleself eerder as Frans, na aanleiding van hulle koloniale geskiedenis. Hierdie eilandstaat is waarlik ’n heerlike mengelmoeskardoes van ’n tropiese eiland, Afrika en Europa.

Twee dinge moet jy van meet af aan gereedhou as jy van die vliegtuig afklim:

  1. ’n Sakdoekie om die sweetjies af te vee, want die lughawe se lugversorging werk nie.
  2. Die woord “tsy” wat “nee” beteken en wat jy ferm moet herhaal soos wat allerlei mense jou omring omdat jy ’n (welkome) toeris is.

Ek was paraat, want ek het twee toerleiers gehad: Myndert en Marinda Bloem. Myndert is as sielkundige een van my medewerkers en jy ken hom as die akteur wat die rol van Attie in my video’s vir die kursus, 77 Dinge wat jy van temperamente moet weet, vertolk. Hy is ook as ’n sendeling in Madagaskar werksaam.

Dit was sy briljante voorstel dat my boek, Lewe in volkleur, in Malgassies vertaal moet word en dit was die eintlike rede vir my eksotiese reis: Om die boekbekendstelling by te woon. En ja, my boek se eilandtitel is Miaina fiainana feno loko.

Die eerste paar dae ná my aankoms was ek deel van die bediening aan die mense in die omgewing van die hotel waar ons gebly het. Ons was op ’n kleiner eiland noordwes van die groot eiland. Elektrisiteit was min, maar die Gees se krag was onbeperk!

Ons het darem nie net gewerk nie. Ons het saam met toeriste uit allerlei ander lande die lugversorging en heerlike kos van die hotel geniet en natuurlik die lieflike strand. Die tropiese natuur is so bekoorlik en my vitamien D-vlakke het ’n goeie “boost” gekry danksy al die sonskyn.

Die hoofrede vir my reis en ’n gebedsversoek

Die boekbekendstelling het op 18 Desember plaasgevind en hiervoor moes ons weer terugvlieg na Antananarivo. Dis ’n groot stad waar ’n mens die eilandgevoel ’n bietjie verloor. Die mense is vriendelik, maar jy moet tog maar jou handsak baie mooi vashou, hoor.

Myndert as my persoonlike lyfwag en toergids het my veilig deur die vreemde stad begelei en aan ’n paar pastore voorgestel. Hy is baie bekend aan die kerk in Madagskar en dit is vir my ’n besonderse voorreg dat die mense daar so in my boek oor die vier temperamente belangstel.

By die bekendstelling het ek baie mense ontmoet en hulle vriendelikheid was oorweldigend. Die Here het lank terug deur die sendingwerk van Myndert die pad vir die boodskap van my vier kleure voorberei. Die gedrukte boek wat nou in Malgassies gelees kan word, is die bevestiging hiervan.

Om die boek met die vreemde taal vas te hou het my so laat dink aan die eerste Pinkster … Malgassies is ’n taal met lang, ingewikkelde woorde. Die span vertalers en proeflesers in Madagaskar sê self hulle moes harde bene kou omdat hulle taal so kompleks is. Die Heilige Gees praat egter helder en duidelik in alle tale om te sorg dat mense se verhoudings gesond bly!

Bid asseblief saam met my vir die Here se werk in Madagaskar. Noem asseblief Myndert se naam voor ons Hemelse Vader, asook die medewerkers wat die vertaling, proeflees en drukwerk behartig het: Michael en Andie Armansin, Josiane Rabefarihy en Crea Jedidia. 

My tydjie by die see, ’n bietjie nader aan die huis

Lê familie en/of hartsvriende jou ook na aan die hart oor die Kerstyd? My hart gaan uit na almal wat geliefdes mis gedurende hierdie emosionele seisoen. Ons verstaan mekaar se gevoelens, want ek het ook ’n pa, ma en broer wat in die hemel is.

Daarom is dit altyd vir my heerlik om ’n seevakansie met my familie aan die suidkus te hê. Dis veral vir my spesiaal om dae lank in die geselskap van my peetkind, Kaylen, te spandeer.

Kinders verander baie in ’n jaar en sy is so ’n pragtige tiener met ’n interessante uitkyk op die lewe. Wat ek die meeste van haar geniet (en bewonder) is haar sterk karakter en hoe beginselvas sy haar gesonde waardes uitleef.

Ek kry ook tyd om dinge te doen wat ek geniet om te doen, maar nie in my besige werksmaande ingepas kry nie. Dinge soos lang wandelings op die strand en om voor te berei vir die feesdae se tafeldek, kosmaak en die kies van die mooiste musiek om uitdrukking aan ons vreugdevolle samesyn te gee.

Een van die redes hoekom ons saamboerdery so plesierig is, is dat ons mekaar se temperamente verstaan. Ons los mekaar om dinge alleen te doen op tye wat vir elkeen gepas is en beplan ons saamkuiers volgens almal se voorkeure. Daar is byvoorbeeld geen reëlings rondom ontbyt nie, maar ons braai op spesifieke tye almal saam.

Ek het self weer beleef hoe bevrydend en lekker dit is as jy groei in jou kennis van jou eie temperament. Ons speel baie speletjies en in die verlede het my bloeddruk gestyg as iemand gekroek het soos wat mense mos maar doen. Deesdae lag ek stilletjies in my mou hieroor en ons almal skater lekker saam vir al die gemoedelike grappies.

As ek so terugkyk op my maand wat gevul was met opwindende avonture en kuiers saam met met my hartsmense voel ek so geseënd. Dis vir seker die beste manier om ’n nuwe jaar te begin! Mag jou dankbaarheidslysie ook so heerlik lank wees wanneer jy skouer aan die wiel sit en mag jou seëninge, wat jy so een vir een tel, jou krag gee as 2025 spoed optel.

Nuwejaarsgroete,

Lynette

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Who can I love today?
Inspiration

Who can I love today?

I often find myself getting irritable with other people’s behaviour. This happens almost automatically in traffic, particularly on busy mornings.

Read More »
Wie is Jy?
Temperaments

Wie is Jy?

Wat is die mens? “Kop, twee pootjies en ‘n pens,” het oom Leonard Vrey van Upington eendag vir my gesê. Ek het lekker gelag vir

Read More »