Die groeikrag van leerders, gewasse, rande en vriendskappe

Ná al die baie rusdae van Aprilmaand wens ek ek kan in lewende lywe voor jou kom staan en vir jou vertel hoe die energie in my bruis ná hierdie bedrywige Meimaand. Ek was baie vlytig, hoor!

Hoe gaan dit met jou in die winter wat nou regtig op ons is? Was of is daar kleurspatsels van kosmosblomme of grasvelde wat groener/bruiner/rooier word langs jou lewenspad? Mag dit so wees in die groeikrag van die Heilige Gees!

Skyn die son sag en koesterend deur die kaal takke van die bome om jou? Of sit jy knus voor vlamme in jou kaggel of onder ’n uitbundig-bont kniekombersie?

Is jou wortels nog in die Woord geplant sodat jy hierdie winter innerlik kan groei? Mag die Gees jou so lei en jou geestelike hart warm hou.

Die groeikrag van leerders, gewasse, rande en vriendskappe

Mag ek maar soos ’n outydse vinielplaat vashaak en weer bevestig hoe kosbaar dit vir my is om by skole te mag optree voor wonderlike leerders en onderwysers? So was dit weer vir my in Mei …

Op pad na Viljoenskroon was ek eers in Kroonstad waar ek by verskillende geleenthede met groot en klein oor Waardes in Skole, Persepsies versus die Realiteit en die Liefdestale gepraat het. In Viljoenskroon het ek voor verskillende gehore oor dieselfde temas gepraat en ook oor die Vier Kleure.

Ek het nie net skolasties “gepreek” nie, maar ook in die kerk. Hier het Dominee Dries my verras met ’n geleentheid om op ’n plaas in ’n groot stroper te ry.

Nou kyk, ek is dol oor vinnige en eksotiese motors. Maar laat ek enige motorentoesias nou vertel, ’n rit in een van hierdie luukse, reusegroot trekkermasjiene is ’n gans anders fantastiese belewenis! Ek het soos ’n koningin in daardie lugversorgde paleis op wiele gevoel.

En so van trekkers gepraat, ek was weer soos baie ander jare by die alte plesierige SA Graan NAMPO. Daar het ek saam met ander sprekers van Voelgoed Media (een van die borge) opgetree en die openingsrede van die vroueprogram gedoen.

Ek hoop jy kan sien hoe my Afrikaanse woordeskat daar tussen die mielielande ’n hupstootjie gekry het. Trouens, my hele besigheid kry met die Here se genade allerhande hupstote. Een hiervan is ’n moontlike EQ4Kids franchise (ja, dis steeds ’n keurige Afrikaanse woord) in Kanada! Volgende maand vertel ek jou meer hieroor en van die ander opwindende nuwighede.

Jy weet mos mense met ’n Geel temperament soos ek hou van verandering, avonture en pret. So het ek met een van hierdie platform se lede, Anelia Prinsloo en haar Stokvelsusters ’n ongewone, jolige sessie gedoen. Sowat van uitbundig en entoesiasties wees, het ek lanklaas gesien.

Ekskuus, Groen en Blou lesers – ek dink daar is net enkele spatsels van julle meer ernstige en besadigde temperamente in daardie groep. Hulle maak rande bymekaar tot die vreugde van hulle spaarsamige Blou gesinslede. Hulle doen dit op die tradisionele manier wat mos al dekades lank hier in Suid-Afrika beoefen word.

Maar hulle maak ook blydskap in die Here bymekaar en is vir mekaar van groot ondersteunende waarde. Toe, wil jy nie dalk ook ’n paar vriendinne nadertrek en so iets probeer aan die gang kry nie? Daar is soveel vroue wat rande, raad en ’n riem onder die hart nodig het.

Meimaand is mos die maand van moeders. Dis die maand waarin ons ernstig moet nadink oor ons versorging en koestering van al die mense wat oor ons pad kom. Dis alle mense se roeping om mekaar op te bou, te help en te ondersteun – op verskillende maniere en volgens ons unieke behoeftes en binne die sterkpunte van ons temperamente.

As jy na my potgooi in Juniemaand luister, sal jy vir Anelia van die stokvelgroep hoor. Sy vertel hoe haar besigheid, Pienkvoet Pret, ma’s en ouma’s met babas tussen 3 maande en 3 jaar opbou en bekwaam maak. En omdat Juniemaand mos Vadersdag insluit, praat ek ook in daardie potgooi met die pa’s en oupa’s oor hoe belangrik hulle is.

Susters en sussies en om die Here met passie te dien

Ken jy die musiekproduksie “PassieVol” wat sedert 2023 jaarliks by Moreletapark Gemeente aangebied word? Topmusikante tree voor ’n gehoor van 6 000 gelowiges op met die Heilige Gees wat almal inspireer om passievol oor Jesus as Koning te wees.

Ek was hierdie jaar daar en … ek het nie woorde nie. Dis ’n hartsbelewenis wat persoonlik en intiem is. ’n Mens kan dit nie regtig beskryf nie, maar ek dink tog dat die mense wat duisende jare gelede in Jerusalem die eerste Pinkster beleef het, sal verstaan hoekom my oë blink as ek hieraan terugdink.

Van die mense wat ek ken wat met buitengewone groot passie hulle werk doen, is medici en opvoedkundiges. Hoe onmisbaar hierdie passievolle mense en hulle dienste is, het ek by herhaling besef toe ek met die susters van die Van Heerden Apteekgroep ’n sessie deurgewerk het. (Dis nou vroue wat opgelei is as susters en ook mekaar se geestelike sussies is.)

By die SAOU (Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie) se opleidingsgeleentheid vir Betuursbemagtiging het ek met 530 skoolhoofde en onderwysers gepraat. Hulle tema het om ’n skaakbord en skaakstukke gesentreer en ek het met hulle oor Skuif met Wysheid gepraat.

Niks in die lewe verander of word beter voordat jy dinge nie ánders doen nie. Jy moet verander, jy moet iets nuuts waag, jy moet skuif. En dit moet met wysheid gedoen word, vanuit die sterkpunte van jóú unieke temperamentkombinasie.

Natuurlik doen ons dit as Geesvervulde mense wat ook ons swakpunte bestuur soos wat ons op die skaakbord van die lewe vorentoe beweeg. Dit hoef egter nie altyd met ’n frons tussen die oë en met ’n beswaarde gemoed te gebeur nie.

Skuif jouself na ’n teater naby jou en gaan lawe jouself met iets blymoedigs. Ek het “Semi-Soet – die musiekblyspel” in AfriForum Teater só geniet. Moet nou net nie uitwerk hoe lank gelede dit was wat jy dalk die gelyknamige film gesien het nie …

Ag, kom ek sê maar vir jou: Dit was dertien jaar gelede. Moet tog nie frons of beswaard voel oor hoeveel ouer jy sedertdien geword het nie! Onthou net hoe prettig en snaaks dit was en gaan kyk dit weer of vir die eerste keer. Ek was dol daaroor!

Net so dol soos oor my opnames vir Groot Ontbyt. Ag, man, dis sulke lekker mense! So ook die groot groep vroue van Jubilaté Gemeente in Benoni met wie ek gekuier en gepraat het op hulle Damesoggend.

Ek het so ewe met my eie motor gery en Hardus het alleen met die maatskappy se B.Wellness-bakkie gery. Ek wou tydig vir ’n volgende afspraak vertrek, maar toe was ek een van die laastes om daar weg te ry!

Mag die Here jou wintermaand opvrolik met nie net semi-soet okkasies en vriendskappe nie, maar volkleur, Geesvervulde samesyn met mense wat jou waarlik goed laat voel.

Mag ons almal geseënd wees met manne wat volgens die voorbeeld van Christus leiding neem en hulle gesinne, werksplekke en gemeenskappe in liefde dien. Mag ons almal volgende maand terugkyk op ’n geseënde Vadersdag op die derde Sondag in Junie!

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Start where you are
Inspiration

Start where you are

It is amazing what one finds when you do some gardening into the past. Look at this amazing quote by CS Lewis – British writer,

Read More »