’n Jaar van Drome en Dankbaarheid

Vir C. Louis Leipoldt is Oktober die mooiste, mooiste maand, wanneer die natuur veelkleurig blom. Vir my is Desember die mooiste, mooiste maand, wanneer my gees in volkleur met dankbaarheid blom.

Die laaste maand van ’n jaar dwing ’n mens om terug te kyk voordat jy vorentoe kyk. Sommige jare, so met die terugkyk het ek hier en daar ’n asvaal maand gesien waartydens dinge uitdagend was of sommer net sleg skeefgeloop het.

Maar selfs dan was ek dankbaar en het ek dankie gesê vir die Here se teenwoordigheid in daardie omstandighede. My hoop op ’n beter “volgende jaar” het altyd soos Leipoldt se pers viooltjies my voorhuis volgestaan.

Hierdie jaar is een van daardie jare waar ek verstom staan oor my lang lys drome wat waar geword het. Ek hoop tog so dat jy ook sulke tye van vreugde ken!

Vir dekades hoor ek die roepstem om mense te help met hulle verhoudings en sedert November van hierdie jaar is my platform en my reikwydte letterlik so wyd soos die Heer se genade. Ons is nou digitaal! Jy is deel van my nuwe aanlyn platform (dankie!) en dit is my voorreg en vreugde om nou elke maand met jou te deel wat hier by ons gebeur het en nog gaan gebeur.

Op 2 November het dit amper onwerklik gevoel toe ons by die deftige Maslow Hotel in Menlyn, Pretoria my nuwe platform bekendgestel het. Daar was letterlik honderde vriende en familie, sakevennote en kollegas en my gunstelingsangeres, Monique Steyn wat die groot mylpaal kom vier het.

My gunstelingaanbieder, Elsa Esterhuizen het gesorg dat ek op die regte tyd praat, lag, spring en klein bietjie huil. Dit was waarlik ’n geleentheid waarnatoe ek en almal wat my bygestaan het, besonder hard gewerk het. Ons het meer as ’n jaar lank klippe gekou voordat ons die heerlike happies by hierdie spesiale ontbyt kon geniet.

Drome werk mos so. Een kom lê in jou hart en dan groei dit gaandeweg in ’n doelwit in. Met die regte mentors, vriende en medewerkers wat in jou en in jou droom glo, kan jy dan die harde werk verrig tot jy die wenstreep in sig kry. Die opofferings is baie, maar die vreugde is soveel meer as jy dan die werklikheid sien, hoor, proe, ruik en voel.

Tog kom drome nooit heeltemaal klaar nie, nè? Daar is altyd ’n nuwe doelwit, ’n nuwe wenstreep wat jou die toekoms in trek. 2 November lê nou agter ons en is eintlik maar die begin van nog baie groot dinge wat op hierdie platform gaan gebeur. Ek nooi jou uit om deel hiervan te wees.

Hardus en ek het terwyl die aanlyn platform realiteit geword het, ook aangegaan met ons ander werk. Ons het soos gewoonlik die land (en Lesotho) vol gereis na skole, korporatiewe maatskappye en instansies. Ek het ook opleiding gedoen vir studente oor temperamente en ’n fantastiese vrouekonferensie by Lofdal AGS Kerk gehad.

In Franschhoek het ek die maand vir drie dae onderbreek met ’n bietjie ontspanning en dis waarlik een van die mooiste plekke op aarde. Dis eerlikwaar elke keer as ek iewers optree ’n hoogtepunt in ons werksdae en ons albei geniet dit geweldig om orals mense te leer ken wat my na hulle blyplek, werkplek of kerk nooi.

So was ek in Jeffreysbaai waar ek verstom gestaan het voor ’n stampvol kerk by twee geleenthede. Die gemeente het my betaal en mense kon my optredes gratis bywoon. Is dit nie die mooiste geskenk wat ’n gemeente vir hulle mense kan gee nie? En ek was so dankbaar dat so baie mense gekom het …

Een van die mense wat ek gesien het en mee gekuier het was my oud-onderwyser, Mnr. Deon Goosen. Hy het donkiejare gelede vir my gesê dat ek nooit moet toelaat dat omstandighede my drome van my steel nie. My oud-onderwyser in Afrikaans was ook daar en ons het so heerlik gesels noudat ek ook nie meer nat agter my ore is nie.

In die laaste week van November was ek weer in Franschhoek by ’n plek met die lekkerste naam, Rickety Bridge, en ons het ook ons heel eerste webinaar aangebied. Soms moet ek myself net knyp om seker te maak ek droom nie … Soveel mylpale en redes tot dankbaarheid in hierdie laaste weke van 2024. My hart loop oor!

Die vakansietyd lê voor en ek gaan my tasse pak vir ’n wegbreek na Madagaskar. Kan jy dink hoe lekker gaan ek daar ontspan op ’n mooi strand … Ek gaan ook iets baie opwindends doen waarvan ek jou in my volgende nuusbrief sal vertel, maar hier is twee leidrade:

Dis ’n boekbekendstelling.
Die titel is: “Miaina fiainana feno loko”

Hou aan met werk aan jou drome, volkleur groete tot volgende maand,

Lynette

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Die Titanic-effek
Inspiration

Die Titanic-effek

“Eintlik leef ons almal op die Titanic,” was James Cameron, regisseur van die fliek, se woorde. Ons ken almal die verhaal: die volmaak-geboude superskip Titanic

Read More »
Kleuter of oumens
Inspiration

Kleuter of oumens

Was jy al in die geselskap van ‘n irriterende mens? Een wat sy eie beuel blaas of alles beter weet, of wat keer dat die

Read More »