Seën, plig en plesier in Februarie 2025

Hoe gereeld kyk of luister jy na nuusgebeure of lees jy dalk koerant? Laat ons nou maar eerlik wees: Die wêreld is omtrent omgeklits, nè? Die uitdaging om in balans te voel en te leef, raak al hoe groter!

Ek hoop jy voltooi pligsgetrou jou dankbaarheidslysie en tel jou seëninge nog een vir een en by die tientalle. Mag ek jou vertel van ’n ongelooflike gebeurtenis wat my weer hard en duidelik herinner het hoeveel genade daar altyd by die ongeluk is?

Hoe die Here my met beskerming en ’n mense-engel geseën het

Ek was in ’n ongeluk. By ’n verkeerslig het ’n groot viertrekvoertuig in my vasgery. Maar ek het niks oorgekom nie, nie ’n skrapie of ’n seer spier nie! Net my motor het so seergekry dat ek nie verder kon ry nie.

Dis seën nommer 1: Aardse skade, waarvoor ek versekering het, maar niks liggaamlik nie.

Die Rooi deel van my temperamentkombinasie wou-wou rasend word, maar toe klim ek nogtans kalm uit. Met hoflikheid het ek en die ander betrokkenes inligting uitgeruil en foto’s geneem.

Dis seën nommer 2: Vrede wat ons menslike verstand te bowe gaan.

Maar daar staan ek toe met my hande in my hare (wat gelukkig nog mooi gelyk het), want sien, ek was op pad na PSG waar ek ’n halfdag-aanbieding moes doen. My generasie se werksetiek is mos dat ’n mens ongeag omstandighede jou plig nakom en ek móés net daar uitkom.

Opeens hoor ek toe ’n bekende stem wat na my roep … Dit was Vanessa, my naeltegnikus wat “per toeval” verbygery het en my motor herken het. “Gaan, Lynette, gaan doen jou praatwerk, ek sal hier al die praatwerk doen. Vat my motor, ek sal omsien na jou arme motor. Toe, gaan nou!”

Dis seën nommer 3: ’n Engel van ’n mens wat tot my professionele redding verskyn het.

Ek het twee minute oor 9 by PSG aangekom en dadelik met my aanbieding begin en dit het goed gegaan. In die teepouse het ek my versekering uitgesorteer. Alhoewel ek lank vir parte moet wag, het ek ’n uitstekende tydelike voertuig waarmee my werk kan voortgaan.

Dis seën nommer 4: Dat my professionele lewe steeds vlot verloop te midde van die teenspoed.

In Februariemaand, die maand van die liefde, het die Here se liefdevolle versorging in ’n gebroke wêreld my weer diep dankbaar gemaak. Soek hierna in jou lewe ook, asseblief. Jy sal die tekens vind, want ons Here is getrou.

Die seëninge van pret en plesier op kalm vaarwaters

Ken jy Voelgoed Media se #girls-BOOTREIS? Nou kyk, al die Supervroue wat so hard werk en so baie vir hulle mense doen, kry tydens hierdie jaarlikse fees van ’n bootreis kans om te ontspan en hulle kragte te herlaai. Daar gebeur wonderlike goed as vroue so bymekaarkom en mekaar opbou en bemoedig.

Ek het só lekker met ’n hele klomp van my helde en heldinne gekuier. Kyk, my gunstelingsanger, Jay was daar en ons het kopstukke gesels, ek en hy en sy lieflike vrou, Mia. Hulle drie seuns is nou ingeteken by WIRED – Flip the switch as ’n geskenk van my om hulle te help om nóg beter te leer.

Leah het my so beïndruk as ’n besonder talentvolle verhoogkunstenaar. Sy kan sing en dans en grappies maak en dan is sy nog so besonder nederig ook. Sjoe!

Hannon en sy wonderlike span was daar en ek het net weer besef hoe waardevol dit is om op die mooi in die lewe te fokus. Nog ’n klompie mooi, prettige mense met wie ek en die ander vroue heerlik gekuier het, was die span van die hoofborg, Franck Global (Kalahari Lifestyle).

Aan tafel het ek by Marciel Hopkins en haar ma gesit. Wat ’n voorreg om hierdie twee egte en stylvolle vroue te leer ken. En wat kan nou lekkerder wees as om heerlike kos te geniet saam met die ikoon van liggaamspositiwiteit?

As ek ’n standbeeld vir iemand kon oprig of ’n medalje aan haar kon uitdeel vir haar bydrae tot Suid-Afrika, dan is dit vir die doyenne van Suid-Afrikaanse komedie, Lizz Meiring. Sy kry na my mening nie die erkenning wat sy verdien nie. Wat ’n voorreg om in haar belese, eksentrieke, kosbare teenwoordigheid te gewees het!

Die seën van plig voor plesier en harde werk

Ek het natuurlik op die skip gewerk ook en onder andere twee vroeg-oggendsessies uit die Bybel aangebied. Jy sal jou verbaas hoe baie vroue dit bywoon, al kuier ons elke aand so lekker laat. Ek het ook my Lynette Beer Live op die waters aangebied en dit bly tot my groot dankbaarheid vir mense ’n treffer.

Dis nou al tradisie dat ek in Februarie ’n intensiewe werkswinkel met die nuwe studente van die Capital Hotelskool doen. Om so met Ronel Bezuidenhout se jongmense te mag werk is waarlik ’n plesier en hulle energie motiveer my.

Nog ’n ander hoogtepunt was opnames by Die GROOT Ontbyt. Dit bly maar opwindend om voor kameras te wees. Ek het ook opleiding by GROOTfm vir die Bloudrukspan gedoen. Hulle is groot gunstelinge van my.

Ons het ook met ’n nuwe besigheid afgeskop, naamlik Entrepreneurs Excellence. Ons het ons eerste kliënt, Modic, wat digitale oplossings vir hulle kliënte bied, begelei om hulle besigheid na groter sukses te neem.

My kollegas René, Herman en Tilicia bring elkeen hulle unieke kennis oor mensebestuur, finansies en die wet na die tafel, terwyl ek die x-faktor van verhoudings uitlig. Dis ’n wenresep! Hou ons webblad dop, ons sal al die nodige inligting daar gaan plaas soos wat ons groei.

Die webinaar van Februarie was die langste een ooit! Mense het soveel vrae gehad oor die tema geestes- en emosionele gesondheid. Dit het my genoop om nou te beplan aan inhoud en opnames oor selfdood, depressie, saamleef met kanker en die dood van ’n geliefde.

Op Saterdag 1 Maart tree ek by die EkwilEkkanEksal-konferensie by Lewende Woord, Brummeria op. My tema is “Jy is spesiaal net soos jy is”. Kom sê vir my hallo – dit sal vir my spesiaal wees.

Uitnodiging om saam te bou aan die seën van my platform

My nuwe platform en die lidmaatskap waarvan jy tot my groot vreugde deel is, is gebore uit my roeping om mense se kennis van gesonde verhoudings te vergroot. Hierdie platform is nog in haar kinderskoene en ek droom nog groot dinge.

Om hierdie drome waar te maak het ons terugvoer nodig, asseblief. Ons wil graag toesien dat jy en soveel as moontlik mense hier die seën kry wat jy nodig het.

Ons weet dat die webblad aanpassings en verfyning nodig het. Die slim mense agter die (rekenaar)skerms is reeds besig om veranderinge te implementeer om toegang en verbruik makliker en vriendeliker te maak.

Gee asseblief vir ons terugvoer oor temas waaraan jy behoefte het. Laat weet ons wat werk en wat werk nie. Stuur jou voorstelle, kritiek, idees, klagtes, versoeke en komplimente na info@lynettebeer.co.za.

Mag die Here ons almal seën in ons pligte en in ons plesier. Mag ons Sy seën aangee na die wêreld wat honger is vir Sy liefde.

Groete tot volgende maand!

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Anger
Anger

Anger

Scientists have proven that people would choose discomfort before the unknown. Even if your comfort zone is no longer comfortable, you would choose to stay

Read More »
How to deal with burnout
Burnout

How to deal with burnout

Deadlines. Meetings. New projects. More meetings. New systems. More meetings. Writing reports. Analyzing stats. Making decisions. More meetings. Working hours? Officially probably from 8 am

Read More »