Versprei die geur van Christus
Hallo beste
Hoe goed gaan dit? Hoe was jou Juliemaand?
Orals waar ek was het mense se tande geklapper, hulle het dik jasse gedra en na kniekombersies gegryp. ’n Hele paar mense wat al ’n hele paar winters agter die bibberende blad het, verseker my hierdie is die koudste winter in menseheugenis!
Maar dis die ding nè, ons geheues is selektief en ons onthou dinge wat ons wíl onthou en ook sóós ons dit wil onthou. Of die winter van 2025 regtig besonder koud is, sal die statistieke en die ware weerdeskundiges eers oor ’n paar maande vir ons kan sê. In my geheue lê hierdie winter egter ’n bietjie warmer as gewoonlik.
Miskien is dit omdat ek so baie reis en vliegtuie en motors knus verhit word. Miskien is dit omdat ek besig is met soveel nuwe dinge en soveel veranderings, dat al die groeiwerk my hart warmer as gewoonlik laat klop.
Miskien is dit omdat ek so dankbaar is dat my bloed vinniger vloei en my energie bruis. Miskien is dit omdat ek ’n “Boomer” is en een van my generasie se sterkpunte is dat ons nie sommer oor dinge soos die koue kla nie.
Ja, lag maar in jou mou, ek weet ouer mense staan bekend as klakouse, maar dis wat die internet sê oor die generasie wat tussen 1946 en 1964 gebore is. (Ek gebruik die Engelse benoeming, want dis algemeen bekend.)
Vier kleure en meer as vier generasies
Die verskillende generasies is ’n interessante studieveld. ’n Mens kan dalk dink dis twak om mense so in groepe in te boks of jy kan dalk dink dit het geen nut nie. Maar ek moes hieroor besin want ek het ’n aanbieding hieroor gedoen.
Dit is tog so dat mense wat in verskillende eras gebore word, noodwendig anders na die lewe kyk. In ons land is dit ekstra kompleks, want ons kan nie klakkeloos die Amerikaanse of Europese eienskappe van die generasies oorneem nie.
Hier by ons oorvleuel die sogenaamde “Freeborns” wat ná 1994 gebore is met die Millenniërs en Generasie Z. Boomers en Generasie X se uitkyk op die lewe word natuurlik beïnvloed deur die heel ander eras vóór 1994 waarin hulle gebore en getoë is.
Hierdie verskille speel noodwendig ’n rol in mense se werk en word deur verskillende vakgebiede bestudeer. Produktiwiteit, gesondheid, ekonomiese deelname, sosio-politieke gedrag, ensovoorts word beslis ook deur ’n mens se geboortedatum beïnvloed.
My eie kennis hieroor moes ek gaan uitbrei omdat Smit en Kie Makelaars my gevra het om ’n 3-dag-werkswinkel met hulle mense te doen. Hierin moes ek meer as een tema aanspreek. Ons het gefokus op drome en doelwitte, ’n lewe van sukses en uitnemendheid en hoe anders dit vir die verskillende generasies lyk en werk.
Dit is weliswaar harde werk en ’n komplekse uitdaging. As jy egter te alle tye onthou dat mense verskil en dat dit oukei is, is jy al ’n hele ent gevorder op die pad na sukses.
Dis inderdaad uitdagend vir jou empatiese vermoëns. As jy egter gesonde verhoudings wil handhaaf, moet jy die ander persoon se temperamentskoene én generasieskoene tydelik aantrek en ’n entjie daarin stap.
En dis vir seker relevant want Goeiemôre Good Morning, die ontbytprogram op VIA, het my gevra om ’n reeks 12-minute opnames te doen oor “’n Gees van uitnemendheid in die werkplek”. Wat ’n voorreg! En sien jy saam met my hoe weef die Here my werktapisserie om prentjiemooi te wees?
Ons nuwe werkplek en nuwe “vennote”
Ons kantore het verhuis na letterlik net “’n entjie af in die pad en om die hoek”. So ’n nuwe ruimte is so verfrissend, al is die trek self stowwerig en vermoeiend. Nuwe naamborde, nuwe meubels en ’n nuwe omgewing voel soos Kersfees in die middel van die jaar.
In ons nuwe raadsaal het ons ons heel eerste Leer in KLEUR Studievaardigheid-opleidingsessie vir nuwe aanbieders van ons programme aangebied. Ons splinternuwe werkboek was ook daar vir die heel eerste keer beskikbaar.
Dis werklik erg hoe groot die druk met skoolwerk en akademiese sukses op ouers en kinders is. In my Oppi-Bankgesprek met Hannelie Bronner van Edublox het dit my weer diep getref. Luister asseblief daarna as jy enigsins wonder waar jy hulp kan kry vir jou kind of kleinkind.
Ons het hande gevat met Edublox omdat gesinne wat deur leerprobleme uitgedaag word op ’n holistiese wyse met raad en daad bygestaan moet word. Edublox doen dit al meer as vier dekades en my Vierkleurtemperamentmodel is ’n bykomende invalshoek om die kinders se selfvertroue op te bou.
In aansluiting by ons behoefte om verskil te maak in die lewens van ouers en kinders het ons verder hande gevat met Kinderharmonie. Kyk uit vir my toekomstige Oppi-Bankgesprek met Stefanie Minnaar oor haar werk met tieners.
Ons het ook hande gevat met Trinityhouse Preperatory School in Randparkrif om vir die komende drie jaar daar betrokke te wees. Dit is ’n geleentheid wat my hart warm maak al lê die ryp spierwit langs die snelweg op pad soontoe.
Trouens, dit laat my dink aan die oes wat wit lê op die lande … Kyk net hoeveel ander skole het ek besoek:
- Montrose Primary School
- Middelburg Primary School
- Laerskool Derdepoort
- Laerskool Kruinpark
- Laerskool Ermelo
- Laerskool Anton van Wouw
Versprei die geur van Christus
Watter reuke herinner jou aan die goeie tye van die lewe? Vir my is dit rose en springmielies! Want sien, ek was by Stols Rose in Bothaville. Dis altyd so lekker om in mense se huise te mag inkom en tydens ’n voldagwerkswinkel saam met ’n familie uit te werk hoe hulle in harmonie kan saamwoon en saamwerk.
Daar was 12 volwassenes en 4 tieners, 10 ton hartlikheid en die verskillende kombinasies van temperamente is ’n wiskundige berekening wat ek liewer nie probeer uitwerk nie … Hardus en ek is albei met 2 bosse rose bederf en my huis ruik nou soos genade.
Ewe superlekker was my ander “familie”, Voelgoed Media, se Fliek-aand (saam met Pharmaforce). Ons het pajamas aangetrek, “Superman” gekyk en natuurlik springmielies geëet dat die sout spat.
Mense wat saamkuier, lag en spesiale herinneringe skep is deel van die Here se liefdesgawes aan ons en dis Sy opdrag dat ons dit sal aangee na mekaar:
“Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word,
waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan …
(V)ir dié wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek …”
(2 Korintiërs 2:15-16).
Seenwense vir jou!
Lynette
Plaas skakel na die Oppi-Bank video hier in
Tuine, die natuur en mense wat die wêreld verfraai
In die Oos-Rand het ek by ’n kleurvolle tuinfunksie van B Unique (wat vroue se hare en naels opdollie) oor my Vierkleurtemperamentmodel gepraat en saamgekuier. Dit was vir my ’n unieke geleentheid met handgemaakte boksies en keurige eetgoed in die buitelug.
Die aarde sug mos soos Paulus geskryf het, maar as ’n mens die kans kry om iewers die natuurskoon te beleef, kry jy nuwe moed. So was ek in Lesotho vir ’n werkswinkel by die Letšeng-diamantmyn.
Onderweg het ons vir ure deur sneeubedekte landskappe gery. Asemrowend! Onvergeetlik! Dit gee ’n mens nuwe perspektief as jy jou oë opslaan na die spierwit berge en die Here se hulp in herinnering roep.
So het ek dit weer aan my eie lyf beleef hoe ’n mens se gees verhelder word as jy naby aan die mooi in die natuur kom. Waardeer jy nog jou eie tuin of potplante of parke in jou omgewing? Is jy iewers op ’n manier by natuurbewaring betrokke?
Mense met emosionele bagasie en pyn
VIA (DStv-kanaal 147) se ontbytprogram, Goeie môre, good morning, het my genooi en Elsa Esterhuizen en Rozanne McKenzie het met my oor emosionele pyn gepraat. Dis ’n relevante tema, want ons word mos opgeroep om mekaar se laste te dra en daar is so baie mense wat swaar dra.
Die groot verskil wat gelowige mense hierin kan maak, het my weer getref by ’n werkswinkel vir Structural Steel Hub in eMalahleni waar die eienaar en sy vrou sulke mooi kinders van die Here is. As mense verstaan waarom hulle kollegas maak soos hulle maak as gevolg van hul temperamente, verhoog die harmonie in ’n werkplek én die produktiwiteit.
Hoe gelowiges mekaar se pyn kan help genees, het my diep getref by ’n Vroue-van-die-Woord-kamp van Leonora Spies. Ek was die laaste spreker. Daar was 35 vroue saam met waarlik Geesvervulde sprekers en ons het mekaar só gehelp om emosionele bagasie by die kruis neer te sit.
Mag ek maar met jou deel dat ek daar soos Mirjam voor die Here gedans het? Ons het na Bernice West se liedjie, “Die Here het my mooi gemaak” geluister en ek en al die vroue het spontaan saam gesing en gedans. Doen dit gerus, al is jy ’n skugter Bloue of Groene, ons gees het dit nodig.
As jy getroud is, moet jy asseblief jou lewensmaat vasgryp vir daai dans. Of kom woon een van my “Jou Huwelik in Volkleur”-vertonings by, soos die een wat die Gereformeerde Kerk Standerton in die Standerton Teatro aangebied het. Man, dit was so ’n lekker geleentheid met warm sop en harte wat weer warm vir mekaar geklop het.
Mag jóú hart Geesvervuld en heel bly.
Warmhartige groete
Lynette







