Beste
Tyd staan mos nooit stil nie en hierdie jaar is ek my besonder hiervan bewus. Weet jy hoekom? Omdat ek maandeliks terugkyk en gedagtes oor wat ek gedoen en beleef het met jou deel. Dit laat my meer bewus leef en bring ’n stukkie perspektief op hoe ek my tyd bestee.
Dankie dat jy hierdie gedagtes van my lees, want dit dwing my as ’n Geel persoon om letterlik boek te hou van die lesse wat ek by mense leer. En ons kan almal vir seker so baie by mekaar leer en daaruit groeikrag put vir ons geestelike wortels vir die lente wat voorlê.
Die een groot les wat ek in Junie 2025 geleer het, is: Dit neem net een tot twee persone om ’n hele groep mense se lewens op te foeter. Maar dit neem gelukkig ook net een tot twee persone saam met die krag van die Heilige Gees om weer hoop te bring.
Het jy dit al in jou eie lewe opgemerk hoe baie stukkende verhoudings daar is? Hoe baie mense se vreugde gesteel word deur toksiese enkelinge wat groot invloed het? Natuurlik is daar goeie en Geesvervulde mense in die wêreld, maar ons moet na my mening ons lig helderder laat skyn en kragdadig intree om genesing te bring waar die hoop verflou het.
Wat ek in Junie saam met mense beleef en geleer het, deel ek met jou. Bid dan asseblief vir almal en alles saam met my, of kies net dié wat met jou hart praat.
Onderwys, onderrig en onderwysers
Die Kopskuif Summit onder leiding van Rian Truter vind jaarliks in Stellenbosch plaas. Dit is dié onderwyskongres wat groot verskil maak in die lewens en werk van skoolhoofde en onderwysers. Hierdie verskil dra hulle dan natuurlik verder uit in die lewens van hulle leerders en kollegas.
Enige persoon wat met onderwys gemoeid is, sal baat deur hierdie konferensie by te woon, want dis hier waar jy energie kry om uitdagings aan te durf. In my Oppi-Bank gesprek met Marius Botha wat nou vars opgelaai is, kan jy hoor hoe groot en hoe intimiderend die uitdagings in die onderwys is.
Ek het tydens my spreekbeurt die meer as 500 deelnemers herinner aan hulle superkrag: Daar is net een persoon in die lewe wat JY is. Net jy kan in jou lewe bereik waarvoor God jou bestem het en Hy het jou hiervoor op presies die regte wyse aanmekaargesit. Jy moet dit net verken en ontdek.
Sportafrigting is natuurlik ook ’n groot deel van die onderrig wat ons jongmense by skole kry. Saam met my Leer in KLEUR-span raak ek al hoe meer by studievaardigheidsopleiding en ook leerderbemagtiging betrokke.
Dit beteken dat ons leerders leer om beter te studeer, maar ook om meer emosioneel intelligent te word en hulle gevoelens te bestuur en gesonde verhoudings te bou. Omdat ons alles vanuit my Vierkleurtemperamentmodel doen, is ons aanpak heeltemal uniek.
Kinders leer en leef vanuit hulle temperamente en moet daarom verskillend benader en afgerig word. So het ons byvoorbeeld by Hoërskool Montana ondersteuning en begeleiding gebied aan ’n span hokkiedogters en die afrigters.
Die verskil wat ek en my span in sport by skole kan maak, is nie iets wat ek beplan het nie, maar dit is vir seker nou deel van my roeping.
Nog mense met ’n unieke aanpak in onderwys is Die MOS Inisiatief. Hulle vorm ’n Afrikaanse skolenetwerk van kleuterskool tot hoërskool en met selfs ’n aanlyn skool, bied hulle volhoubare, inklusiewe en toekomsgerigte onderrig.
Ek het vir al hulle franchises ’n aanlyn aanbieding gedoen. Die digitale wêreld is darem maar ook wonderlik om verskil in die lewe van kinders en ouers te maak!
In my eie lewe het twee skole ook hierdie maand ’n groot verskil gemaak. Dit was nog altyd my droom om by Sekondêre Meisieskool Oranje op te tree en hierdie maand het dit gebeur. Wat ’n voorreg! En ek was by ’n reünie van my laerskool waar ek so heerlik met goeie ou vriende gekuier het – op die maat van boeremusiek!
Tuine, die natuur en mense wat die wêreld verfraai
In die Oos-Rand het ek by ’n kleurvolle tuinfunksie van B Unique (wat vroue se hare en naels opdollie) oor my Vierkleurtemperamentmodel gepraat en saamgekuier. Dit was vir my ’n unieke geleentheid met handgemaakte boksies en keurige eetgoed in die buitelug.
Die aarde sug mos soos Paulus geskryf het, maar as ’n mens die kans kry om iewers die natuurskoon te beleef, kry jy nuwe moed. So was ek in Lesotho vir ’n werkswinkel by die Letšeng-diamantmyn.
Onderweg het ons vir ure deur sneeubedekte landskappe gery. Asemrowend! Onvergeetlik! Dit gee ’n mens nuwe perspektief as jy jou oë opslaan na die spierwit berge en die Here se hulp in herinnering roep.
So het ek dit weer aan my eie lyf beleef hoe ’n mens se gees verhelder word as jy naby aan die mooi in die natuur kom. Waardeer jy nog jou eie tuin of potplante of parke in jou omgewing? Is jy iewers op ’n manier by natuurbewaring betrokke?
Mense met emosionele bagasie en pyn
VIA (DStv-kanaal 147) se ontbytprogram, Goeie môre, good morning, het my genooi en Elsa Esterhuizen en Rozanne McKenzie het met my oor emosionele pyn gepraat. Dis ’n relevante tema, want ons word mos opgeroep om mekaar se laste te dra en daar is so baie mense wat swaar dra.
Die groot verskil wat gelowige mense hierin kan maak, het my weer getref by ’n werkswinkel vir Structural Steel Hub in eMalahleni waar die eienaar en sy vrou sulke mooi kinders van die Here is. As mense verstaan waarom hulle kollegas maak soos hulle maak as gevolg van hul temperamente, verhoog die harmonie in ’n werkplek én die produktiwiteit.
Hoe gelowiges mekaar se pyn kan help genees, het my diep getref by ’n Vroue-van-die-Woord-kamp van Leonora Spies. Ek was die laaste spreker. Daar was 35 vroue saam met waarlik Geesvervulde sprekers en ons het mekaar só gehelp om emosionele bagasie by die kruis neer te sit.
Mag ek maar met jou deel dat ek daar soos Mirjam voor die Here gedans het? Ons het na Bernice West se liedjie, “Die Here het my mooi gemaak” geluister en ek en al die vroue het spontaan saam gesing en gedans. Doen dit gerus, al is jy ’n skugter Bloue of Groene, ons gees het dit nodig.
As jy getroud is, moet jy asseblief jou lewensmaat vasgryp vir daai dans. Of kom woon een van my “Jou Huwelik in Volkleur”-vertonings by, soos die een wat die Gereformeerde Kerk Standerton in die Standerton Teatro aangebied het. Man, dit was so ’n lekker geleentheid met warm sop en harte wat weer warm vir mekaar geklop het.
Mag jóú hart Geesvervuld en heel bly.
Warmhartige groete
Lynette







