Hallo beste
Dit was nou ’n heerlike maand propvol vroue en vierings oor die verskil wat vroue maak! Maar kan ek eers iets vir jou vra? Pla dit jou dalk ’n bietjie, dié klem wat in Augustusmaand op die vroulike geslag geplaas word? Of hou jy dalk baie daarvan?
Dis ’n tema wat my kop nogal besig gehou het so tydens my reise. Soms gebruik ek die ure in motors (as ek nie hoef te bestuur nie) en in vliegtuie om agterstallige oproepe en e-posse af te handel. Ander kere gesels ek in my kop met die Here en dink oor alles wat ek beleef.
So het ek ’n bietjie hand in eie boesem gesteek. (Nee, nie letterlik nie, jou rakker!) Hoekom is daar iets soos ’n maand en vakansiedag wat op vroue fokus?
My gedagtes kom tot uiting in my werk waar ek optree en preek, in my skryfwerk in die boeke en die blogs wat ek publiseer en in die kursusse op my aanlyn platform. Jy sal hulle ook hoor in my potgooie en gesprekke op my bank.
Maar wat dink jy?
Gesels jy met jou mense en veral met jou kinders oor kontensieuse sake soos die twee geslagte en die rol van vroue? Ons wat van die platform van Lig leef, kan met die emosionele intelligensie wat die Gees ons leer oor sulke kwessies praat, debatteer en selfs argumenteer.
Ons kan dalk so in ons samespraak by antwoorde uitkom. Maar weet jy, eintlik is dit nie die heel belangrikste dat ons by oplossings uitkom nie. Om met mekaar in dialoog te wees – ook oor sake wat aan ons harte krap en waaroor ons sensitief of skaam is – help ons om mekaar as mense te leer verstaan.
Begrip en kennis van mekaar maak ons konneksies sterker. Veral as jy jou kennis van die vier temperamente toepas. En dan word Paulus se gebed in Filippense 1:9-11 (2020 vertaling) verhoor:
“Ek bid juis dat julle liefde
al hoe meer sal toeneem in kennis en insig,
om die dinge wat saak maak, te kan onderskei,
sodat julle, met die oog op die dag van Christus,
innerlik suiwer en onberispelik kan wees,
gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus
tot verheerliking en lof van God.”
Vroue is plesierig en dan maak hulle só …
Op 9 Augustus was ek in Margate saam met die lekker vroue van Helpende Hand. Hierdie wonderlike organisasie glo daarin om vroue te bemagtig om voluit vrou te wees deur om te sien na die werk, welstand en opleiding van die vrou.
Die Helpende Hand-vroue van Polokwane het my ook genooi by ’n latere geleentheid om saam te kuier oor hoe ’n mens die lewe in volkleur kan leef. En dis ’n belangrike saak om oor te besin so tussen die plesierige kuiery.
Die hartseer realiteit van ons direkte omgewing is dat daar nog baie uitdagings vir vroue is – waarvan geweld maar een is. As jy iets wil dóén, raak betrokke by Helpende Hand se FroueVonds. Hulle het allerhande projekte waarby al die verskillende temperamente aanklank vind. (En ja, hulle spel hulle naam doelbewus so “verkeerd”.)
Daar was nog meer sulke plesierige vieringe. By Voelgoed se Vroue wat Glo-retreat in Vanderbijlpark het ek en die ander sprekers gepraat oor die tema “Ek kan nie … maar God kan!”. En glo my vry: Die Here KAN. Die skare vroue het Hom geloof en aanbid.
Nog ’n vrolike, vroulike viering was die Willa Krause Velsorg Inspirasiedag. Hier het ek oor supervroue en ons superkrag gepraat. Leo Prinsloo, Suid-Afrika se eie “Chuck Norris” was ook daar. En die klomp oulike, kragtige vroue het soos Superwoman aangetrek – fantasties!
Om van krag tot krag te gaan
Omdat superkragte nie ouderdom ken nie, was ek by Zambezi Aftreeoord waar ek my eie kragte herlaai het met gesellige samesyn en tradisionele koeksisters en melktertjies. En toe skiet ek deur na PSG in Jeffreysbaai waar die elegante mense en die see my siel verfris het.
Intussen gaan ons opleidingsessies vir Leer in KLEUR Studievaardigheid se aanbieders van krag tot krag. Dit maak my so opgewonde as ek dink aan die verskil wat ons in leerders se lewens maak!
En daarom was my uitnodiging na ISASA (Independent Schools Association of Southern Africa) se Proudly Primary Conference ’n besondere voorreg. Dit het in Pietermaritzburg by St Charles College plaasgevind en hulle koor het die mense se harte geroer. Ek het dan ook met hulle oor emosionele intelligensie gepraat. Ek is so trots dat hulle my genooi het!
So van kinders en trots wees gepraat (geskryf): Ek was weer by Pienkvoet Pret. Ek weet ek klink soos ’n plaat uit die ou dae wat vashaak as ek sê dat ek bevoorreg is om iewers op te tree. Maar regtig, dit was my heerlikste voorreg om by hierdie groep se opedag in Alberton te gewees het.
Die hoogtepunt van my maand was die Radio Tygerberg Sis’ters Vroue-konferensie by die Artscape. My Geel hart het my privaat, grênd kleedkamer met allerlei roompies, reukwaters en ongewone delikatesse ongelooflik baie geniet.
Ons was ’n klomp sprekers wat kragtige boodskappe en getuienisse gelewer het en dit was vir 1 500 vroue ’n dag om te leer, luister en lag. Wat ’n belewenis! Dis ’n okkasie wat ek graag saam met my Kaapse susters sou wou herhaal.
Dis mos so inspirerend om spesiaal te voel en dis hoekom ons hierdie geleenthede moet bywoon. Dit gee jou energie om jou volkleurlewe te leef, verskil te maak en die Here se Naam groot te maak.
Daarom sê ek dankie vir Rachel van Bohemian Gastehuis in Tzaneen vir haar besonderse gawe van gasvryheid. Die stylvolle funksie wat deur mans, vroue en kinders bygewoon is en die besonderse manier hoe julle my bederf het, het my so lekker spesiaal laat voel.
Maar dis nie net die lekker okkasies wat ’n mens lanseer om jou doelwitte te bereik nie. Dis ook die struikelblokke op jou pad wat dit doen. Hieroor het ek in Kimberley met AGS Huis van Restourasie en die mense wat hulle geleentheid bygewoon het, gepraat.
En natuurlik moet ’n mens soms akademies geïnspireer word en was ek by die Education Innovation Departement van die Universiteit van Pretoria. Hulle bied opleiding en ondersteuning vir akademiese personeel om hul onderrig te verbeter, nuwe tegnologieë te inkorporeer en kreatiewe leerervarings te skep. My halfdag werkswinkel het oor leierskap gehandel.
Vir jou gebedslys en jou doenlysie, asseblief:
Ek wil soos Paulus bid dat die Here ons almal se begrip en fyn aanvoeling vir kinders en jongmense en alle volwassenes wat met hulle werk, sal vermeerder. En so wil ek jou weer vra om vir die volgende komplekse en sensitiewe sake te bid:
- Ouers wie se babas enkele weke of dae voor geboorte sterf.
Stilgeboortes breek mense se harte, laat nimmereindigende vrae in hulle gedagtes en in hulle arms is daar vir altyd ’n leë plekkie. Net die Here kan harte weer vul, vrae met vrede vervang en hoop gee dat ons mekaar weer in die hemel sal omhels.
Ek het ’n troosdiens vir ’n ouerpaar gedoen, maar weet jy, al kan jy dalk nie hieroor met mense praat nie, jy kan vir hierdie ouers bid. Onophoudelik.
- Orgaanskenkings en die 3 500 mense wat jaarliks vir een wag.
Net 0,2% Suid-Afrikaners is geregistreer as skenkers. Net 600 mense per jaar word gehelp. Is dit nie verskriklik nie?
Ek was in Onrus betrokke by ’n funksie vir ’n dogter wat wag vir ’n nier en ek pleit by jou om die Orgaanskenkersvereniging te kontak en te registreer. Kliek op https://odf.org.za/ of skakel 0800 22 66 11. Gebed is duur – ons moet bid én doen.
- Jongmense met uitsonderlike behoeftes
In samewerking met Tshwane Haven en die opkomende motiveringspreker, Felicity Ncube het ek oor veerkragtigheid by ’n ontbytgeleentheid in Bossa Restaurant in Erasmuskloof gepraat. Ons verwag so maklik van mense om balle te wees wat terugbons as hulle val, maar hoe gemaak as jy byvoorbeeld nie arms en bene het nie?
Songeel Felicity is die veerkragtigste persoon wat jy moontlik ooit sal ontmoet en haar grootste droom is om mense aan te raak en hoop te gee. By hierdie funksie het sy die geleentheid gekry, maar jy kan haar en ander mense met spesiale behoeftes op soveel méér maniere help.
Bid én kontak asseblief enige kinderhuis of organisasie naby jou. Word vriende met mense wat jou sal inspireer terwyl jy dieselfde vir hulle doen.
Seënwense vir jou!
Lynette







