Maak brandhout bymekaar

My oupa het altyd geglo dat ʼn mens herinneringe moet bymekaar maak want dis jou brandhout vir jou oudag, het hy gesê. As klein dogtertjie het ek altyd gewonder of hy dalk die ou familie-albums in die kaggel sou verbrand wanneer hy oud genoeg was. Maar later het ek verstaan wat hy bedoel het.

Watter vakansies onthou jy die graagste? My ervaring is dat ek dié onthou waar die meeste dinge gebeur het. Soms was daar probleme soos ons kar wat gebreek het – maar dan onthou ek hoe ons uiteindelik deur gawe mense gehelp is en hoe die tannie vir ons melkkos gegee het in haar kombuis.

Doen ons ooit moeite om nuwe herinneringe te maak? Anders gestel – dink jy soms in die middel van iets wat met of rondom jou gebeur, dat jy besig is met brandhout bymekaar maak vir eendag? Dat elke ontmoeting met ʼn interessante mens of elke nuwe insig wat jy kry, deel is van jou emosionele foto-album waardeur jy eendag sal kan blaai?

Dis menslik om dinge as vanselfsprekend te aanvaar en te vergeet om jou seëninge te tel. En met die ouer word kom die vergeet vanself. Maar daar is ʼn manier om dit teen te werk, sommerso speel-speel. 

Navorsers sê dat jy dinge beter onthou as jy jou sintuie aktief inspan. As jy byvoorbeeld ʼn aangename ervaring het of op ʼn mooi plek is en jy wil seker maak dat jy dit nie gaan vergeet nie, gebruik die vyfpuntplan: Maak vir jou ʼn lysie van vyf dinge wat jy raaksien; vier dinge wat jy kan hoor; drie dinge waaraan jy kan vat; twee dinge wat jy kan ruik – en een ding wat jy kan proe.

Kyk ʼn week later hoeveel van die sintuiglike dinge jy nog kan onthou en probeer die oomblik te herroep. Dis ʼn goeie brein-oefening maar dis ook hoe jy nuwe herinneringe bymekaarmaak – brandhout wat wie weet, eendag nuttig te pas gaan kom…

 

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Geskiedenis Maak
Inspiration

Geskiedenis Maak

Op skool was ek nie regtig lief vir geskiedenis nie. Want ek het nog nooit daarvan gehou om dinge uit my kop uit te leer

Read More »
Groot leiers
Inspiration

Groot leiers

“Groot leiers het almal een ding in gemeen”, skryf Johan Maxwell in sy boek Developing the leaders Around You: Hulle maak werk van dié wat

Read More »
Hoe dan nou?
Inspiration

Hoe dan nou?

Ek is op die vliegtuig op pad Kaapstad toe. Langs my sit ‘n vrou. Langs haar sit haar man, ‘n man met ‘n groot dors.

Read More »