Dankbaarheid is die sleutel tot ‘n gelukkige lewe

Hoe goed gaan dit met jou? Hoe geseënd was jou Paastyd? Is jy, soos ek, opgewonde om in die komende weke spesiaal op die Heilige Gees in jou lewe te fokus? Gaan jy die koue trotseer en Pinkstergeleenthede bywoon?

Ek is so jammer ek kan nie jou antwoorde hoor nie, maar ek hoop van harte jy gebruik woorde soos “baie goed, dankie”, “ja, prys die Naam van Jesus” en “vir seker” in respons op my drie navrae.

As jy vir my sou vra hoe my Aprilmaand was, is my antwoord bietjie meer kripties, naamlik “Arabies”. Kom ek verduidelik …

Lynette en Lawrence van Arabië – my besoek aan Dubai en Abu Dhabi

Hoor jy ook in jou gedagtes die mooi lied, “Caravan Song” van Mike Batt en gesing deur Barbara Dickson as jy aan Arabië dink? ’n Mens se gedagtes gaan mos maar dadelik na die woestynlandskappe van hierdie deel van die wêreld as jy hoor iemand was in Dubai of Abu Dhabi.

Dis nou al ’n hele paar jaar wat ek optredes voor Suid-Afrikaanse “nomades” in hierdie twee stede doen. Dis eintlik nie so opspraakwekkend nie, want dis mos deesdae ’n algemene aspek van ons lewens dat van ons vriende en familie oraloor die wêreld versprei is.

Mense se werke neem hulle letterlik na alle kontinente, lande, stede en dorpe op die wêreldkaart. As jy met ’n speld herhaaldelik op ’n aardbol sou prik, is ek seker jy sal op elkeen van daardie prikplekkies Suid-Afrikaners kan opspoor.

Terwyl ek so in die vliegtuig onderweg was en nie kon slaap nie, het ek hieroor gedink. My gedagtes het na ’n film gedwaal wat wrintiewaar ouer is as wat ek is. “Lawrence of Arabia” is een van daardie klassieke films wat ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het.

In my jeug het ons mos nie so baie toegang tot films gehad soos wat ’n mens deesdae het nie. Dit was spesiale geleenthede. Die nimmereindigende woestynlandskappe, die Bedoeïene en Peter O’Toole in hierdie epiese verhaal sal my daarom altyd bybly.

Vandag verstaan ek dat dit ’n mens ’n interessante en ontstellende insig in die nimmereindigende konflik in die Midde-Oooste gee, maar destyds het dit my twee dinge geleer. Die eerste een was die krag van “mind over matter” en die tweede was hoe ’n mens se trots jou wreed kan maak.

As jy nog nie die film gesien het nie, kan jy dit op YouTube vind, maar kortliks is dit die (min of meer) ware verhaal van ’n Britse spioen wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog by die stryd om onafhanklikheid van die Arabiese protektorate betrokke geraak het.

In die eerste helfte van die baie lang film is hy my held, want hy oorkom allerlei uitdagings in die woestyn met sy oortuiging dat ’n mens enigiets kan regkry as jy in jouself glo. Maar later word hy vanweë sy arrogansie en selftrots, bloeddorstig, wreed en onmenslik.

Ek was heeltyd lus om vir hom sê: “Lawrence, glo net in Jesus! Dis in Sy Naam wat jy enigiets kan doen! En die Heilige Gees sal in jou woestyntyd vir jou die wysheid gee wanneer om kragdadig en moedig te wees en wanneer om nederig en genadig te wees.”

Nou ja, daar in Dubai het ek dikwels gedink aan die mens se vermoë om selfs in ’n woestyn te floreer, maar hoe ons steeds afhanklik van ons Skepper is. Ds. Deon Bester en sy vrou Susan het my naamlik as deel van hulle gasvryheid na indrukwekkende besienswaardighede geneem.

Die eerste was die Ain Dubai. “Ain” is die Arabiese woord vir “oog” en die Dubai-Oog is dieselfde tipe wielgedoente soos die Londen Eye en die Cape Wheel waarin toeriste so graag rondgedraai word.

Die Ain Dubai is egter die grootste en die hoogste een in die wêreld en beslis nie bedoel vir mense met hoogtevrees nie. Meer as ’n duisend (ja, 1 met drie nulle!) mense kan gelyktydig in die verskillende kajuite inklim en jy kan daarbinne rondloop. Die uitsig oor Dubai is adembenemend en die mens se vernuf het my weereens verstom.

Ons het by ’n ander geleeentheid die reusagtige pretpark, Global Village besoek. Hier kan jy produkte van meer as 90 lande/kultuurgroepe vind. Daar is natuurlik honderde prettige “rides”, eksotiese restaurante, fassinerende tentoonstelings en manjifieke museums.  

Maar ek was nie in Dubai net vir die lekker nie. Ek het in die Raddison Dubai DAMAC Hills Hotel met ouers oor liefdestale en temperamente gepraat. Dit het my hart so goedgedoen om so baie pa’s daar te gesien het! Ek het in my aanbieding addisioneel gefokus op die impak van ’n verhuising na die buiteland op kinders van verskillende ouderdomme.

Jy het dit al so baie gehoor dat ’n mens se temperament álles van jou lewe beïnvloed. Maar het jy al daaraan gedink dat die verskillende kleure anders reageer op ’n groot verskuiwing na ’n ander land en dat dit ook weer gans anders vir kinders tussen 3 en 18 jaar is?

Hierná, in Abu Dhabi was ek helaas bietjie siek, maar kon genadig ’n dag in die bed rus. Maar jy ken my mos – ek laat my nie onderkry nie en ons het weer rondgerits. Ons was by die Yas Links Golf Club waar groot toernooie plaasvind en jy kan gerus op Google gaan loer hoe mooi dit daar is.

Ons het op die Yas-eiland gebly waar daar ook ’n gesinsvriendelike pretpark is. ’n Mens moet maar kies watter besienswaardigheid jy wil besoek, want daar is te veel vir net een dag. Ons was by SeaWorld.

Dis die grootste binnenshuise park vir seelewe in die wêreld. ’n Mens dwaal nie net tussen akwariums met jou mond wat van verwondering oophang nie, jy jil ook oopmond van plesier op die tuimeltrein.

Die hele belewenis is regtig ’n “rollercoaster ride” van verstomming oor die skepping en die natuur en dan weer bewondering vir die mens se vermoë om te bou en te beheer. Ek het my tussendeur lekker verkyk aan al die baie mense en opgemerk hoe ons verskil en tog ook dieselfde is.

Naas my Arabiese avontuur was daar ook ander pligte en plesiere

Die vierde maand van die jaar was soos gewoonlik ’n minder besige klompie weke vanweë al die vakansiedae, maar ek was ondermeer by The Marketing Zoo. Hulle is ’n groep mense wat briljante bemarking doen. Ek het die temperamente en liefdestale met hulle deurgewerk.

Hulle het my en Hardus bederf met groot geskenke, naamlik polshorlosies wat hulle self ontwerp en laat maak het. As jou liefdestaal “Geskenke” is, sal jy weet hoe spesiaal ’n mens voel as jy so iets besonders ontvang. (As jy nie die liefdestale ken nie, lees gerus my boek Die kleure en tale van die liefde .) 

The Marketing Zoo sê op hulle webblad hulle is “ready to roar”. Dit laat my telkens glimlag as ek terugblaai in my dagboek, omdat ek ook by Grootbek Boerdery en Leeuwenhof Akademie was.  Dié drie afsprake herinner my daaraan dat die lewe ernstig is, maar terselfdertyd skuil daar orals grappies en woordspel.

By Grootbek Boerdery het ek met die familie gewerk. Onthou gerus dat ek nie net voor groot gehore optree nie, maar ook met kleiner groepe werkswinkels en opleidingsessies doen.

Ná al die baie jare wat ek my werk doen, bly ek steeds diep onder die indruk hoe dit gebeur dat mense met teenoorgestelde temperamente kan saamboer. Dit was interessant om hierdie keer met mense te werk wat letterlik suksesvol saam bóér.

Nog ’n groot groep mense wat suksesvol saamwerk en leer is die onderwysers en kinders van Leeuwenhof Akademie, ’n Afrikaanse Christelike privaatskool aan die Oosrand. Dit is vir my opvallend hoeveel wonderlike keuses ouers het oor waar hulle kinders kan skoolgaan. Dit bly altyd vir my so bemoedigend om met ons jongmense te werk.

En dit herinner my: Onthou tog om vir elke onderwyser wat soos ’n ma vir jou kind op skool gesorg het, dankie te sê en vir hulle te bid. Doen sommer dieselfde vir elke kollega of vriend wie se versorging betekenis in jou lewe bring. En natuurlik, as jy nog so bevoorreg is om ’n ma of ouma in jou lewe te hê: Koester hulle hierdie maand.

Mooi loop en mag jy ook iewers iets beleef wat jou waardering vir mense se kennis en vernuf sal vergroot terwyl jy altyd weet ons word deur die Almagtige Skeppervader versorg en gelei.

Lynette

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Millennial stress
Stress

Millennial stress

There are more songs shaming Millennials than any other generational group. Hilarious songs, composed by? Millennials, of course.

Read More »
Start where you are
Inspiration

Start where you are

It is amazing what one finds when you do some gardening into the past. Look at this amazing quote by CS Lewis – British writer,

Read More »